| Dis erger die tweede keer... |
|
| |
Ek is nie juis sportief nie. Ek het dit eintlik altyd geweet - die Groter Ligthelm Familie se bydrae tot sportgenetika in die jaar 1973 was my kleinniggie, Alna, wat ALLES kon doen. Grootmotoriesgewys was daar was geen gene oor toe ek 6 maande later opgedaag het nie.
Vir ons onsportiewes is daar nooit die geruis van wind deur jou hare in die pylvak nie, nooit klink daar vir ons onbalvaardiges die bevredigende geluid van baseball bat wat teen bal klap, die gejuig van die skare, die geklingel van glas uit die voorruit van 'n ongelukkige en vloekende bestuurder in Coetzeestraat nie...
Ek het op negejarige ouderdom hiermee vrede gemaak (nadat die netbaljuffrou vir my ma gevra het om my liewer nie weer oefening toe te bring nie - ek tel sulke subtiele boodskappe wel op). Ek lei 'n vol en bevredigende lewe ten spyte van my gebrek aan spoed, balvaardigheid of koördinasie. Dit gebeur nooit meer met my dat daar twee ratse meisies voor 'n groter groep staan en een vir een maatjies uitroep om in hulle span te hê, met ek en een ander motories-beperkte dogtertjie wat tot laaste wag nie...
Ek het heeltemal gerus geraak, vir heelwat jare al geskei van die squeek van North Star tekkies, die reuk van pawiljoene, die stem van die LO juffrou.
Toe gebeur dit. My kinders gaan skool toe. En dit blyk (voorlopig, mens weet nooit...) dat my genetika die dominante faktor in hulle sportvaardigheid is. Danksy een of ander statistiese sameloop van omstandighede is heelwat van my voormalige skoolmaats se kinders in my kinders ouderdomsgroep - so ek kan nou langs die veld sit en sien hoe húlle kinders die bal oor die kerk se dak slaan...
Dis actually vir my erger die tweede keer. Nou is dit nie net my eie teleurstelling (om nie vir die span gekies te word nie, byvoorbeeld) en vernedering (ek gaan nie voorbeelde noem nie), maar ook my kind s'n! Dubbel so erg!
Vir daai tye wat ek langs die sportveld sit, kry ek dit nie reg om te onthou dat ek eintlik 'n wonderlike lewe lei, waar balle en spiere en ander sporttoerusting nie 'n rol speel nie. Ek morph in 'n twaalfjarige in, gluur deur skrefiesoë vir mense waarteen ek 25 jaar laas 'n grudge gehad het (maar nie waar hulle my kan sien nie!)
Met al bogenoemde as agtergrond sit ek laasweek op 'n skoolpawiljoen in Groblersdal, en skree vir Jandré waar hy HEEL LAASTE ingehardloop kom na die landloop liga. Hy hardloop (ek gebruik "hardloop" hier in die wydste sin van die woord) die hele laaste 200 meter alleen, net hy en die honderde toeskouers. Ek voel sy pyn. Ek sien hoe hy mik-mik om 'n shortcut agter die pawiljoen verby te vat, aan te hou hardloop, in die kanaal weg te kruip tot almal huistoe is.
Skielik kry hy so 'n vasberade trek op sy gesig, en hardloop met al die trots wat hy bymekaar kan maak, reg voor die pawiljoen verby, oor die wenstreep, alleen. Ek vang hom by die wenpaal (verloorpaal...) en hou hom vas, en vertel hom hoe trots ek op hom is. En hoeveel meer great dit is om klaar te maak as jy laaste is en niemand meer cheer nie.
En ek besef hy het dalk die fisiese wedloop verloor, maar hy het vrek goed gedoen in die geestelike een! |
|