Ons het vandag vir Elias begrawe. Hy was 36 jaar oud – ‘n simpel tyd om dood te gaan, as jy my vra. Net mooi oud genoeg om te weet daar is meer aan die lewe as wat jy altyd gedink het, net mooi oud genoeg om graag meer te wil weet. Nie dat ek dink hy’t vreeslik baie tyd gehad vir filosofeer nie. Die begrafnis was op die plaas, die gaste (insluitend ‘n Councilor wat deur die Munisipaliteit gestuur is om ‘n paar woorde te sê, ‘n goedgevoede dame met oranje kunsleer hoëhakskoene) het struikel-struikel deur die klippe en takke tot by die graf geloop, en pragtig gesing terwyl die kis laat sak is. Twee ou ooms het só gestaan en gesels oor hulle jongdae dat hulle eers besef het die verrigtinge gaan sonder hulle voort toe die eerste grawe grond in die gat val. Na die tyd het ons na sy ma-hulle se huis toe gegaan en rys en pap geëet, en kool en hoender – ruim skeppe kos, ingeskep deur ruim, vriendelike vroue, almal van heinde en ver om die familie te kom bystaan. Ek en Elias was ongeveer ewe oud, ons het grootgeword op ‘n plaas, in huise nie meer as ‘n kilometer uitmekaar nie. Fisies naby, bedoel ek – op ‘n ander vlak kon ons netsowel op twee verskillende planete gewoon het (whites are from Venus, of so iets?). Elias se pa is ‘n plaasvoorman, sy ma my huishulp vir die laaste 10 jaar al. Sy het nog altyd groot planne vir haar 7 kinders gehad, en 5 het sover matriek deurgekom – ‘n groot prestasie vir ‘n ma wat self ongeletterd is. Ek weet nie vir seker waarvan is Elias dood nie, sy familie weet glad nie. Die hospitaal het sy ouers laas Saterdag gebel, gesê hulle moet maar gou kom, sy sussie ook saambring. Hulle’t nie geskrik nie, sê sy ma, want hy was nie eintlik siek nie. Sy sê toe hulle by die hospitaal kom, toe skrik hulle, want die nurses het hulle so vasgehou, en Elias se bed het ‘n gordyn omgehad. Elias se pa, Jan, het begin roep toe hy sy kind so sien lê: “Elias! Elias!”, maar die nurse sê: “Moenie so roep nie, Mkulu, dis nou al half vier en hy is al drie-uur dood! Jy kan hom nie nou meer roep nie.” Teen die volgende middag is Anna heeltemal verlep, asof haar lewe uitgeloop het. In ‘n koel kleihut sit sy, rug teen die muur, op ‘n grasmatjie op die grond. Toegewikkel in ‘n kombers, asof warmte die leegheid binne-in kan help toemaak. Langs haar, diékant en daaikant, ‘n ry sagte, ronde gôgô’s, almal met hulle blokkieskomberse om die skouers, rug teen die muur, plat op die vloer. Hulle praat nie eintlik nie, hulle sit maar net saam met haar. Gedweë, gewoond aan swaarkry. Almal saam in die ding. Anna vertel oor en oor hoe hulle te laat was by die hospitaal, en hoe hy nie eers siek was nie. Ek sit saam met die oumas, maar ek vermoed ek dink aan ander goed as hulle. Ek dink aan hoe Elias ‘n drywer geword het, en hoe hy al hoe maerder geword het, en hoe baie jongmense ons deesdae begrawe. Ek dink hoe niemand eintlik wil sê hoekom hulle almal so skielik doodgaan nie. Ek wonder oor Elias se boeties en sy sussie, oor of hulle bang is oor hulle ouboet dood is, of hulle bang is vir die nuwe maer, grys hiëna wat die jong mense opvreet tussen die res uit. Wat klein kindertjies vir krom, moeë oumas los om te probeer kosgee op R210 per maand. Ek dink aan my mediese fonds en my kinders se goed ingerigte skool en my aftree-annuïteite. Ek dink aan hoe al hierdie vrouens hier in ‘n ry teen die muur sit, asof ons op ‘n manier vir Anna kan help dra aan die swaar. Ek wonder wie sou woordeloos saam met my kom sit het vir sewe dae as dit ek was. Die kamer is koel, dit ruik gerusstellend na rook. Teen die oorkantste muur hang twee versierings aan spykers. Die een is ‘n blou A4 sertifikaat wat sê: Bankfontein Combined School. Education is Our Refuge. Academic Performance – Grade 5. Dis verwerf deur die oorledene se jongste boetie, die elfjarige Joël. Die ander is ‘n plakkaat deur die einste Joël – gemaak van prente wat uit ‘n Weg-tydskrif geknip is. Dis ‘n speel-speel advertensie vir ‘n verbeelding-vakansieoord. Op elke knipsel is goed wat hy nog nooit beleef het nie – mense in ‘n oop wildbesigtigingsvoertuig, olifante eenkant. ‘n Klomp mense op bergfietse. ‘n Klomp mense in ‘n swembad, ander in die see, nog ander besig om ‘n groot, blink vis in ‘n boot in te katrol. Heel bo-aan is ‘n prent van ‘n Garmin Nuvi 710 GPS, met die handgeskrewe woorde daarby: “This is only for people with a Navigator. If you don’t have a Navigator, you can’t come.”
Daar is natuurlik Iemand Anders by wie mens kan uitkom sonder ‘n Garmin GPS. Wat vryelik nooi: “Kom na My toe, almal…”, maar my verstaan van Hom sluit ook in dat dié van ons met die karre en die kredietkaarte sy hande en voete moet wees, dat ons kan en moet instaan vir dié wat nie mag en contacts en goeters het nie, dat ons die stem kan en moet wees van dié wat nie gehoor word nie.
Dis die lekker van Afrika: mens kan ‘n verskil maak. Mens hoef nie juis ver te ry om ‘n wesenlike verskil te maak nie. Een sakkie mieliemeel (R9.95) kan ‘n verskil maak vir iemand. Ek hoef nie net verdwaas en ellendig te voel nie, ek kan ‘n verskil maak vir iemand, vandag nog!
Jesaja 58:6-10: Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?
Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.
Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. (Terloops, as jy meer wil weet oor Elias se drie kinders wat agtergebly het, of oor al die ander weeskinders en oumas wat kos en komberse kort, of moedeloos voel oor Suid-Afrika en 'n verskil wil maak, is jy welkom om vir my 'n mail te stuur. Ek en my GPS weet hoe om by hulle uit te kom.)
|