Dankie dat jy by ons 'n draai maak! Lyttelton-Oos is 'n klein gemeente met 'n groot hart en 'n groot droom.
Ons roeping is om dissipels te wees wat vrugte dra deur ander te begelei tot'n lewe in oorvloed. 'n Lewe in oorvloed is 'n lewe van liefde, vreugde en vrede wat voortspruit uit gesonde verhoudings met God, mekaar en ander. Hierdie drie verhoudings word gevoed en gesond gehou deur in elke verhouding die waardes van genade, gemeenskap, gebed, groei en gehoorsaamheid in te bou.
Die droom wat die Here vir ons gegee het, het min te doen met groter getalle, geboue of meer geld, maar baie te doen met die koms van God se koninkryk op aarde. Ons droom van mense wat God se genade deel maak van hulle lewe, van mense wat in gemeenskap met mekaar leef, van mense wat deur gebed in kontak met God leef, van mense wat persoonlike en geestelik groei en van mense wat bereid is om hulleself in gehoorsaamheid aan God te gee ter wille van die koms van sy koninkryk op aarde. Mense wat só leef, leef 'n lewe in oorvloed.